'n Stratovulkaan, ook bekend as 'n saamgestelde vulkaan, is 'n keëlvormige vulkaan wat bestaan uit baie lae (strata) verharde lawa en tefra. Anders as skildvulkane word stratovulkane gekenmerk deur 'n steil profiel met 'n kruinkrater en periodieke tussenposes van ontploffende en uitvloeiingsuitbarstings, hoewel sommige van hulle kalderas, of ineengestorte kruinkraters, het.
Die lawastrome van stratovulkane koel gewoonlik af en verhard voordat dit ver kan versprei as gevolg van die vloeitraagheid of taaiheid daarvan. Die magma wat dié lawa vorm, is dikwels felsies, het groot tot matige hoeveelhede silika (soos in rioliet, dasiet of andesiet) en kleiner hoeveelhede minder taai mafiese magma.[1] Groot felsiese lawastrome is skaars, maar het al 15 km ver gevloei.[2]
Stratovulkane word soms "saamgestelde vulkane" genoem vanweë hulle saamgestelde struktuur van verskillende strata wat opgebou is deur agtereenvolgende uitwerpings van materiaal. Hulle is van die algemeenste soorte vulkane, teenoor minder algemene skildvulkane.[3] Twee beroemde voorbeelde van stratovulkane is Krakatoa in Indonesië, bekend vir sy katastrofiese uitbarsting in 1883, en Vesuvius in Italië, waarvan die uitbarsting in 79 n.C. die stede Pompeji en Herculaneum verwoes het. In albei uitbarstings is duisende mense dood. In moderne tye het Mount Saint Helens in Washington, VSA, en Pinatubo in die Filippyne al katastrofiese uitbarstings gehad, maar met minder sterfgevalle.
{{cite web}}
: CS1 maint: unfit URL (link)